Miljoene Rand se eise vir bejaardes


Veertien eise, ter waarde van miljoene Rand word deur ’n Pretoriase prokureur hanteer teen Staats- en private hospitale en inrigtings vir bejaardes.

Die die meeste van hierdie eise het ontstaan uit beweerde nalatigheid van veral verpleegpersoneel wat pasiënte moet versorg.

Sunelle van Heerden is ’n spesialis-prokureur in hantering van mediese eise. Sy sê die voorkoming van bedsere is die eerste les wat verpleegpersoneel leer in hulle opleiding en so iets behoort dus te alle tye voorkom te word.

Dit is egter volgens haar, skokkend om te sien hoe pasiënte lyk na ’n tyd in die bed. Dit dui daarop dat geen behoorlike versorging gedoen word nie.

Die eerste geval wat hanteer is, is dié van mev. Marthina Liebenberg (89) wat in Junie.
dood is as gevolg van komplikasies wat ingetree het met bedsere.

Haar seun Johan het moeite gedoen om sy bejaarde moeder in ’n spog-aftreeoord te laat bly. Hulle moes egter sien hoe sy deur ’n swaar lyding worstel as gevolg van bedsere.

“Daar is geen rede waarom hedendaagse pasiënte bedsere in ’n hospitaal of enige ander inrigting hoef te kry nie. Dit is die mees basiese verpleegsorg”, het die prokureur gesê.

“Ek sal binne die volgende week of twee die dagvaarding teen Fleurenville uitreik.”

Volgens Van Heerden is dit maar een van veertien gevalle wat nou aandag geniet. Talle inrigtings maak hulle skuldig aan swak dienslewering wat uiteindelik tot uiterste ellende van bejaardes lei. Hierdie mense betaal ten duurste om goeie versorging te geniet, en kan dus met reg vêrdere stappe doen waar dit nie gebeur nie.