Medupi-staking kan 2014 donker laat


Die aanhoudende stakings en talle voorvalle van onkunde wat na vore gekom het met die oprigting van die Medupi-kragsentrale, kan tot ernstige krag tekorte en talle onderbrekings lei in 2014.
Die vertraging wat bekend gemaak is deur Eskom, wat blykbaar ses maande is, kan meebring dat die 2014 winterseisoen reeds veby is alvorens die eerste opwekker aangeskakel kan word.

Brian Dames, Uitvoerende hoof van Eskom sê die vertraging gaan waarskynlik meer druk op die nasionale netwerk plaas.

Eskom het gister laat blyk die vertraging om Medupi se eenheid 6 aan te skakel, sal volgende jaar ’n tekort van 700 MW veroorsaak.

Wat Eskom egter verswyg, is dat nuwe kragopwekking in aanbou is in die Karoo. Derduisende sonpanele word tans opgesit by minstens drie dorpe in die Groot karoo.

Of die drie projekte gereed sal wees voor die winter van 2014, is nog nie bekend nie, maar indien dit wel die geval is, sal daar meer krag beskikbaar wees as wat Medupi se eerste eenheid kan lewer.

Waarnemers meen dat Eskom die feite verswyg in ’n poging om vêrdere tariefverhogings af te pers.

Ekonome het ook daarop gewys dat die swak ekonomie die verbruikers gered het van beurtkrag.

Die vertraging sal ook veroorsaak dat die Medupi-projek nou meer sal kos as vroeëre ramings.

Dames sê hulle kyk nou waar alternatiewe krag vandaan gekry kan word om die verwagte tekorte aan te vul.

Intussen het Die Vryburger verneem dat die vertraging met die Medupi-kragsentrale die land ’n bykomende R15 miljard gaan kos.