Massiewe ysberg breek los


Aan die kus van Antarktika het ’n reuse stuk van ’n ysberg losgebreek.

Berigte wat ontvang is, dui daarop dat die ysberg in deursnit so groot is soos New York stad.

Na raming is dit ’n ysblok van nagenoeg 750 km² wat verlede week losgebreek het van die Pine Island gletser, aan die westekant van die Antarktiese Skiereiland.

’n Radar-instrument op die Duitse satellietstelsel het ’n foto geneem van hoe ’n kraak van 30 km opgemerk is en wat uiteindelik afgeskeur het om ’n “nuwe” ysberg te vorm.

Angelika Humbert, wêreldbekende ys-navorser van die Alfred Wegener-instituut in Duitsland, meen dat die rare verskynsel geensins iets te make het met aardverwarming nie.