Marinda oortref mediese verwagting


Sy het ’n verbete stryd om te bly lewe begin want haar man en kinders is vir haar die belangrikste op aarde. Alhoewel sy ’n gebreekte nek en bekken opgedoen het, het sy met alles in haar liggaam gestry om te herstel.

Sy sê sy wil nie ’n swakkeling wees nie, sy wil net leef en normaal aangaan.
Marinda Combrinck het alle verwagtinge oortref toe haar mediese span in die Milpark-hospitaal in Johannesburg gedink het sy gaan dit nie maak nie. Sy is intussen met ’n nekstut toegerus en uit die hospitaal ontslaan.

Sy het self vanaf haar bed na die hospitaal se restaurant gestap. Alhoewel dit nog pynlik is, is sy vasbeslote om weer haar ou self te word met die genade van Bo.

’n Maand gelede was Marinda ’n slagoffer toe ’n weghol vragmotor, haar motor saam met dertien ander, in ’n erge botsing laat beland het.

Medici het geoordeel dat Marinda ’n nekoperasie en intensiewe rehabilitasie sou moes ondergaan om weer te leer loop. Haar vinnige herstel word nou as ’n mediese wonder beskou.

“My lyf het baie seergekry, maar dit vergelyk nie met die pyn waardeur my gesin moes gaan nie.”

Sy verduur steeds pyn en sal vir drie maande ’n nekstut moet dra.