Luukse woonhuis oorstroom


Die luukse woonhuis van mnr. Herman Blom van Lydenburg, ter waarde van sowat R3,5 miljoen is deur ’n gebarste waterpyp verwoes. Die pyp van die munisipaliteit wat die grootste deel van die dorp van water voorsien, loop ondergronds deur die Tuscan Villa Huiskompleks.

Mnr. Blom se huis is een van talle woonhuis van die kompleks in Nelstraat wat deurgeloop het met die oorstroming.

“Dit het geklink asof die huis inmekaarstort. Daar was net ’n reuse-klapgeluid. Toe hoor ons sement kraak,” het herman Blom later vertel.

Binne sekondes was hulle huis enkeldiep onder water. Hy het die toevoerkraan buite toegedraai maar bruin modderwater het steeds die huis ingestroom.

Die water was spoedig kniehoogte in die huis en deure moes oopgemaak word sodat die water kan uitvloei.

Strome water het dwarsdeur ’n naburige huis gevloei en teen die kompleks se muur opgedam maar die druk was so hoog teen die heining dat meer as 30 meter daarvan omgestoot is.

Meubels, klere en ander waardevolle items is vernietig en sal vervang moet word.

Sowat ses meter grond is onder die huis uitgekalwe wat beteken die huis sal baie moeilik herstel kan word. Kenners is van oordeel dat dit goedkoper sal wees om ’n nuwe huis te bou.

Dit blyk dat die Munisipaliteit verantwoordelik gehou kan word vir die totale skade in die meenthuis kompleks.