Lugmagbasis bewoners hof toe


Die families van lugmag¬lede op die Makhado-lugmagbasis by Louis Trichardt, wat sedert Oktober verlede jaar sonder krag sit, gaan die saak in die hof uitbaklei.

Die families het onlangs ’n gemeenskapsforum gestig en die dienste van adv. Francois van Zyl van Louis Trichardt bekom om die departement van openbare werke (DOW) te dwing om die kragprobleem op die basis vinniger op te los.

“Die aanduidings is dat dit minstens nog ses tot agt maande gaan duur voordat die probleem opgelos is. Die families sien eenvoudig nie daarvoor kans nie en boonop is dit uiters onbillik om ’n gemeenskap van 234 gesinne se lot te ignoreer,” het Van Zyl gister gesê.
Die aanduidings is dat dit minstens nog ses tot agt maande gaan duur voordat die probleem opgelos is.
Die forum het eergisteraand ’n mandaat aan hom gegee om die saak hooggeregshof toe te neem en om ’n interdik teen die DOW te verkry om vinniger ’n plan van aksie in te stel.

Die militêre woongebied van die basis se ellendes het begin toe ondergrondse hoogspanningskabels om ’n onverklaarbare rede ontplof het – “toevallig” toe daar in dié tyd instandhouding aan die lyne gedoen is.

Dit het veroorsaak dat verskeie mini-substasies tussen die huise óók ontplof het en meer as 1 100 mense só sonder krag gelaat is. Volgens Van Zyl voorsien die lugmag sedertdien goedgunstiglik met die hulp van kragopwekkers vir ’n paar uur elke dag teen R60 000 per dag krag aan die huishoudings.

Almal moet egter bykomende uitgawes aangaan soos brandstof vir eie opwekkers en gastoestelle. Omdat die basis so ver uit die naaste dorp is, moet gesinne meer dikwels dorp toe ry vir bederfbare produkte omdat hulle nie meer die goed in vrieskaste kan bêre nie.

Die kragopwekkers veroorsaak gereeld kragstuwings wat elektriese toestelle laat breek.

Volgens Van Zyl is daar blykbaar al R12 miljoen aan belastingbetalersgeld bestee om die elektrisiteitsprobleme op te los, maar die DOW het steeds geen oplossing nie. Boonop word die reeds beperkte bedryfsbegroting van die lugmagbasis nou aangewend vir kragopwekkers, terwyl dit veronderstel is om ’n vegvliegtuigbasis te wees wat met belangriker voorbereidings gemoeid behoort te wees.

Volgens hom is elke gesin nou besig om ’n lysie van uitgawes op te stel. Hulle sal elkeen onafhanklik by die regsgeding gevoeg word.