Lugmag val uitmekaar


Die lugmag se vegtervloot Gripens is vir alle praktiese doeleindes nou vir die land nutteloos en sal binnekort ook waardeloos wees weens ongebruik.
Die onderhoudkontrak met Saab, die vervaardigers van die vliegtuie, het in April verval en is nie hernieu nie.
Magnus Lewis-Olsson, president van Saab Suid-Afrika, het die afgelope week aan defenceWeb gesê hy is bekommerd dat die lugmag die vliegtuie sonder gevorderde kundigheid gaan aanhou gebruik.
Van die 26 vliegtuie wat die lugmag gekoop het, word tans net tien gebruik. Die res word op lang termyn gestoor en weens die gebrek aan ’n ondersteuningskontrak gekannibaliseer vir onderdele om die tien wat gebruik word diensbaar te hou.
Daar is geen nuwe onderdele vir die lugmag beskikbaar nie en geen foutiewe onderdele kan ook weggestuur word vir herstel nie, het Beeld betroubaar verneem.
2 Eskader op die Makhado-lugmagbasis by Louis Trichardt het ’n skamele 200 vlieguur vir die huidige finansiële jaar gekry.
Die vlieëniers op die eskader hou hul vaardighede hoofsaaklik op vlugnabootsers in stand omdat daar nie geld is vir meer vlieg nie.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het vroeër vanjaar gesê 12 van die Gripens word nou onbepaald gestoor omdat daar nie genoeg geld is om hulle te vlieg nie.
Lewis-Olsson het die afgelope week gesê hy hoop ’n instandhoudingskontrak word binne die volgende paar maande geteken.
Die lugmag doen tans die basiese instandhouding met beperkte vermoëns.
Terselfdertyd is Saab se planne om ’n vegvliegskool in Suid-Afrika te vestig óók van die baan. Dié sou by die Overberg-lugmagbasis in die Wes-Kaap gevestig geword het.
Die onbeplande aankondiging oor die skool verlede jaar het egter ’n verleentheid vir die weermag veroorsaak omdat dit nog nie op topbestuursvlak bespreek is nie.
Dít het veroorsaak dat die weermag die planne “kategories” ontken het én dit moontlik verongeluk het.
Helmoed-Römer Heitman, militêre kenner, het in reaksie gesê die jongste ontwikkelings is slegte nuus vir die lugmag.
“As ’n lugmag eers begin om sy vliegtuie te kannibaliseer, raak dit al hoe duurder om die onderdele in die toekoms te vervang. Uiteindelik maak dit ook die verrinneweerde vliegtuig nutteloos.”
Volgens Heitman maak die nuwe Verdedigingsoorsig, wat hopelik eersdaags deur die kabinet goedgekeur word, voorsiening vir genoeg vegvliegtuie om te eniger tyd enige twee vredesoperasies te kan ondersteun.
Dít beteken minstens 12 tuie sodat ses vir opleiding gebruik kan word en nog ses sal op bystand wees.
Suid-Afrika is reeds in die Demokratiese Republiek van die Kongo en in Soedan betrokke sonder dat dié minimum getal Gripens vir ’n noodgeval beskikbaar is.
“As daar ’n noodsituasie ontstaan soos vroeër vanjaar in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, gaan dit uiters problematies wees sonder beskikbare onderdele of genoeg diensbare vliegtuie,” het Heitman gesê.
Die Gripens is 15 jaar gelede as deel van ’n multimiljardrand-wapenopgraderingsprogram gekoop.