Linkses pak mekaar.


Die SAUK het koue voete gekry oor ‘n hoogs omstrede dokumentêre werk wat reeds in Januarie vanjaar uitgesaai sou word.

Ofskoon dit nie ‘n nuwe openbaring oor die sedelike lewe van die president, mnr Jacob Zuma is nie, weier die SAUK om die dokumentêre rolprent, getiteld Project Spear die lig te laat sien.

Daar word na die rolprent waarvan die vervaardiging R5,900 per minuut gekos het – meer as R280 000 dus vir 48 minute lugtyd – verwys as “die prent wat die SAUK jou nie wil laat sien nie.”

Die rolprent waaroor daar nou so getwis word dat prokureurs nou ingeroep is, handel oor ‘n ondersoek wat die ANC aangevra het om uit te vind wat van miljarde rand geword het wat verdwyn het in die oorgang na die nuwe bedeling.

Die bedrag word by die R30 miljard beraam en talle rolspelers uit die vorige bedeling is ook hierin betrek. ‘n Verslag oor hoe die geld terug gekry kan word is aan die ANC gegee wat niks aan die saak gedoen het nie. Bewerings dat politieke vingers in hierdie pastei gekrap het word gemaak.

Volgens die vervaardiger van die rolprent, Sylvia Vollenhoven, ‘n voormalige joernalis van die SAUK voer hulle as rede aan dat die kykers van SABC2 nie gesofistikeerd is om te verstaan nie en dat daar lasterlike bewerings is.

Die joernalis hou egter vol dat dit in openbare belang is en dat die SAUK dit weghou omdat daar skrikwekkende openbarings gemaak word.

Regstappe deur die SAUK word teen Vollenhoven beplan. Paul Hoffman, direkteur van die Instituut vir Verantwoordbare Regering het te kenne gegee dat die SAUK eers geld vermors op ‘n produk wat hulle nie gebruik nie en dan verder geld verspil in regstappe wat waarskynlik meer sal kos as die rolprent.