Kurt Darren in motorongeluk.


Kurt Darren is in die Netcare Milpark-hospitaal se intensiewe sorgeenheid opgeneem nadat hy vroeg Sondagogend in ‘n motorongeluk was.

Sy toestand word as ernstig maar stabiel beskryf.

Aanvanklik was gevrees dat sy nek en rug gebreek is, maar die aanduidings is dat hy slegs agt van sy ribbes gebreek het.

Darren is per helikopter van die ongelukstoneel in Kameelfontein na die hospitaal vervoer. Twee ander persone wat saam met Darren in die motor was, is ook beseer. Die een persoon is na die H.F. Verwoerd Hospitaal met ernstige gesigsbeserings geneem terwyl die ander by die Montana Hospitaal versorg word.

Skynbaar was die drie op pad huis toe nadat hulle ‘n rugbywedstryd by vriende gekyk het, toe die ongeluk gebeur het.

Darren se vrou, Dunay, is tans in Europa. Alle opkomende konserte sal voorlopig gekanselleer word.