Kunene gewaarsku om nie vir Zuma te kritiseer nie.


In ‘n verklaring het die omstrede sakeman Kenny Kunene gesê dat hy gewaarsku is om nie vir pres, Jacob Zuma te kritiseer nie.

“Almal weet die lewe raak moeilik as jy iets teen die regering sê”, het hy gesê. As voorbeeld het hy Frank Chikane (voormalige direkteur van die presidensie), Vusi Pikoli (voormalige hoof van die vervolgingsgesag), Gerrie Nel (aanklaer) en Glynis Breytenbach genoem.

Hy sê ook dat daar aan hom gesê is dat daar met hom afgereken sal word nadat hy verlede maand ‘n ope brief aan Zuma geskryf het. “Jou reputasie en lewensbestaan is die hele tyd op die spel,” sê hy. Volgens hom weet hy dat hy nou die ergste kan verwag.

Kunene het bevestig dat hy by die Economic Freedom Fighters, Julius Malema se nuutgestigde forum gaan aansluit.

“Die stigting van die organisasie is dus nie ‘n besluit van Julius Malema, Floyd Shivambu of Kenny Kunene nie. Dit is die beter, alternatiewe stem van Suid-Afrikaners wat keelvol is en leef sonder hoop dat dinge ooit sal verbeter.”