Korrupte senior polisiebeamptes geskors


Twee polisiebeamptes wat senior poste beklee is geskors weens korrupsie met wapen-lisensie bedrog.

Brigadiers Mathapelo Merriam Mangwane en Hlamane Elias Mahlabane is aan die hoof van vuurwapen lisensies en is gedurende die naweek geskors weens hul betrokkenheid by omkopery.

Intussen is bekend gemaak dat ’n wapenhandelaar hulle glo omgekoop het deur maandeliks geld aan hulle oor te betaal sodat lisensie aansoeke goedgekeur word.

Gareth de Nysschen, ’n vennoot van Dave Sheer Guns, en ’n vriend is glo deur die Militêre Polisie (MP) en die Valke op die Johannesburgse lughawe in hegtenis geneem. Hulle was oppad na die VSA waar hulle ook sakebelange het.

Bewerings is gemaak dat ’n voormalige werknemer van Dave Sheer Guns, as staatsgetuie in ’n opkomende saak blykbaar bekend gemaak het dat sy oor ’n tydperk van etlike jare gereeld twee keer per maand omkoopgeld van sowat R5, 000 en R10, 000 aan Brig. Mangwane betaal het.
Die vrou het glo verskeie beamptes omgekoop en die brigadier het blykbaar aan haar gesê sy sal sorg dat die meeste Dave Sheer-lisensie-aansoeke goedgekeur word.