Koning Albert van België abdikeer.


Koning Albert (79) van België het aangekondig dat hy op 21 Julie vanjaar ten gunste van sy seun, Kroonprins Philippe, sal abdikeer.

Koning Albert II is die eerste Belgiese koning wat vrywillig die troon opgee. Sy vader, Leopold III, was geforseer om ten gunste van sy seun, Baudouin, te abdikeer in die nadraai van die Tweede Wêreldoorlog.

In sy toespraak wat oor die Belgiese televisiestasie uitgesaai is, het hy gesê dat geen een van sy voorgangers op so ‘n hoë ouderdom nog op die troon was nie. Hy het gesê dat sý ouderdom en gesondheid dit vir hom moeilik maak om sy pligte na te kom.

Koning Albert het ‘n groot rol gespeel om België se eenheid te behou. Talle glo dat die politieke probleme wat tussen die Nederlandssprekende Vlaandere in die noorde wat groter outonomiteit gesoek het ontstaan het, ten koste van die Franssprekende deel in Wallonia in die suide, die koning uitgeput het. Veral die wêreld rekord van 541 dae wat hy as bemiddelaar in die geskil moes optree omdat België sonder ‘n regering was.

Bydraend tot die faktor is die talle skandale wat die monargie teister. In ‘n onlangse hofaansoek, eis ‘n aristokratiese kunstenares, Delphine Boel, ‘n bloedtoets om te bewys dat die koning haar vader is.