Kom hier ’n hofsaak?


Pres. Barack Obama se onlangse besoek aan Kaapstad en Robbeneiland kan in die hof ‘n draai maak.

Die ongelukkigheid volg nadat die lugmag sonder waarskuwing etlike kommersiële helikopter-operateurs tydens Obama se besoek verbied het om te vlieg. Vir slegs een operateur, Sport Helicopters, was dit ‘n verlies van R100,000.

Volgens Francois Marais, die bedryfbestuurder, het die toeriste klaar betaal en die sluiting van die lugruim was ‘n reuse verleentheid vir beide die maatskappy en Suid-Afrika. Hulle moes die toeriste se geld terugbetaal. Gevolglik het hulle reeds wetsadvies ingewin.

Die helikopters vlieg vanaf die Kaapse Waterfront op verskillende roetes langs die kus en na Robbeneiland. Obama is met ‘n Chinook-helikopter, vergesel van verskeie Black Hawk-helikopters, op 30 Junie Robbeneiland toe.

Met sy aankoms was daar geen beperkings op die Kaapse lugruim nie. Twee dae voor sy besoek het die Burgerlugvaartowerheid ‘n kennisgewing uitgereik dat daar nie nader as 1,8 km aan enige van die Amerikaanse vliegtuie gevlieg mag word nie.

Volgens dr. Koos Marais, president van die vliegtuigeienaars- en vlieëniersvereniging van Suid-Afrika het hy ‘n week voor die Obama-besoek met die lugmag bevestig dat daar geen sluitings gaan wees nie. Die Sondagmiddag egter het die lugmag sonder waarskuwing alle vliegaktiwiteite vanaf die Waterfront verbied. Francois Marais sê die rede vir die stap was dat die Amerikaners glo skikkerig was.

Ofskoon die lugmag om verskoning vir die optrede gevra het, meen Marais dat die regte prosedures nie gevolg is nie en dat dit boelie-taktiek was.

Die Amerikaanse ambassade in Pretoria sê die soort besluite berus by die plaaslike owerhede en die VSA sal dit nie eis nie.

President Obama se Afrika-besoek wat die Amerikaanse belastingbetaler $100,000,000 gekos het, het o.a. die volgende ingesluit: ‘n amfibiese draer met ‘n volledige toegeruste mediese trauma-eenheid ; militêre vragvliegtuie met 56 voertuie, insluitende 14 limousines en drie trokke gelaai met koeëlvaste glasplate wat voor die vensters van die hotel waar die presidentsgesin tuisgaan, geplaas word.

Laaste maar nie die minste nie het vegvliegtuie in skofte vlieg om 24 uur beskerming aan die President se lugruim te verskaf.