Kinders erf miljoene


Benjamin Franklin het gesê die enigste sekerhede in die lewe is belasting en die dood. Hierdie twee “sekerhede” veroorsaak chaos in die akteur James Gandolfini se boedel.

Die akteur het die meeste van die bates in sy boedel van ongeveer $70 miljoen (sowat R705 miljoen) aan sy 13-jarige seun en babadogter van nege maande bemaak.

Die ontslape Sopranos-ster het ook miljoene aan sy vrou en familielede bemaak.

‘n Testament, wat 19 Desember gedateeer is, is by ‘n hof in Manhattan ingedien, berig die New York Post.

Maar nou slaan die Amerikaanse Inkomstediens toe op die boedel. Ongeveer $30 miljoen (R303 miljoen) sal vir sterfbelasting betaal word. “Die testament is ‘n nagmerrie,” het ‘n prokureur, William Zabel, gesê.

Zabel sê dat soos talle welgestelde persone het Gandolfini nie kontantbeleggings gemaak nie, wat die familie gaan noodsaak om eiendomme te verkoop om die belasting te betaal.

Dit moet benadruk word dat hy die belastinggaarder nie geld geskuld het nie, hy het net dood gegaan en die Amerikaanse regering gaan oes op die boedel.

Gandolfini se seun Michael wat die grootste deel van sy erfporsie ontvang wanneer hy 21 is, is ook die begunstige in ‘n polis van $7 miljoen (R70 miljoen) wat nie belas word nie.

Intussen sal die familie verantwoordelik wees vir die betaling van die belasting en hulle gereed hou vir ‘n kleiner erfporsie as wat aanvanklik verwag is.