IMF verlaag S.A. se groeivooruitsigte


Die International Monetary Fund (IMF) het Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte vir 2013 aansienlik afgeskaal. Die IMF se vorige groeiverwagting vir S.A. was in April nog op 2,8% gestel en dit is nou verlaag na 2,0%. Die groeivooruitsigte vir 2014 is ook afwaarts van 3,3% na 2,9% aangepas.

Die IMF wyt die swakker groeivooruitsigte aan plaaslike probleme met stakings in die land asook laer internasionale pryse van kommoditeite in die mynsektor.

Ekonomiese groei oor die wêreld vir 2013 is ook afwaarts van 4% na 3,8% verlaag. Die EU se verwagte groei word negatief gestel op ‘n inkrimping van 0,6%, China se groeiverwagting is nou 7,8% waar dit voorheen op 8,1% gestel was. Die VSA se ekonomiese groeivooruitsigte is ook vir 2013 afgeskaal van 1,9% na 1,7% en word vir 2014 nou op 2,7% gestel teenoor die vorige 2,9%. Die IMF verwag dat lande in die opkomende markte onderskeidelik met 5% en 5,4% vir 2013 en 2014 sal groei.