Hoofregter se toespraak grens aan haatspraak.


Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in ‘n toespraak klagtes teen die Regterlike Dienskommissie (RDK) gelewer wat volgens kommentators aan haatspraak grens.

Mogoeng het die jaarvergadering van Advocates for Transformation (AFT) toegespreek en ‘n beroep op “ware progressiewe organisasies” gedoen om spreekwoordelik die wapen op te neem teen diegene wat wit, manlike oorheersing van die regbank wil behou.

Hy het gewaarsku dat alles daarop dui dat daar oorlog teen transformasie verklaar is en dat mense na strooihalms gryp om die RDK te diskrediteer.

Hy het ‘n beroep gedoen op AFT en organisasies soos die Black Lawyers Association (BLA) en die National Democratic Lawyers (Nadel) om die transformasie-agente te wees.

Prof. Marinus Wiechers, regsgeleerde van Pretoria het gesê Mogoeng se toespraak grens aan haatspraak. Hy’t gesê dat dit lyk na ‘n oproep om oorlog te verklaar maar hy sê niks oor gehalte wat belangriker as transformasie is nie.

Prof, Tom Coetzee, regskenner van Potchefstroom, het gesê hy kan amper nie glo dat die hoofregter so ‘n uiters militante toespraak kon lewer nie.