Historiese huis moet plek maak vir sakesentrum.


Dwarsoor die wêreld is die oprigting van sakesentrums besig om probleme te veroorsaak. In Ierland was daar ‘n groot gedoente oor ‘n sakesentrum wat op ‘n Vikingbegraafplaas gebou is. In Turkeie het protesoptogte die land lamgelê oor ‘n beoogde sakesentrum in ‘n park.

Hier te lande egter is die historiese Rustenburg Nederduitsch Hervormde Kerk gesloop om vir ‘n sakesentrum plek te maak en nou gaan dieselfde gebeur met ‘n huis in Volksrust wat uit die jare 1890-1900 dateer.

Groot akkerbome (wat waarskynlik ook meer as 100 jaar oud was) langs dié huis in Joubertstraat 42 is reeds afgesaag.

Die huis was tot so twee jaar gelede die eiendom van mev. Joey Gouws van Johannesburg. Sy sê dat sy op ‘n dag deur Volksrust gery het, die pragtige huis met sy groot bome gesien het en besluit het om die huis te koop.

Nadat sy die huis bekom het is dit as ‘n kantoor vir haar man se besigheid ingerig. Sy het ook ‘n koffiewinkel, die Tree House daar oopgemaak.

Die ou huis met sy sandsteenmure was ‘n groot aantrekkingskrag vir toeriste. Nadat hulle na Johannesburg verhuis het, het sy die huis aan die Dept. van Landbou verhuur. Twe jaar gelede is sy deur ‘n sakeman, ene Edward, genader wat die plek wou koop.

Hy het gesê dat hy ‘n nuwe kompleks wil oprig. Gouws sê haar navrae aan die munisipaliteit oor die geskiedkundige waarde van die huis het niks opgelewer nie en sy het toestemming gekry dat die huis gesloop mag word.

‘n Boer van die omgewing, mnr. Gert van der Westuizen het gesê hoewel niemand weet hoe oud die huis is nie, ken hy dit van kindsbeen af. Volgens hom het hy verneem dat dit in 1890 gebou is en dat dit een van die laaste ou geboue is wat nog in die dorp staande is.