Graanboere word gepootjie


Die diefstal van spoorstawe veroorsaak dat graanboere met hulle hande in die hare sit omdat graansilo’s in die besige stroopseisoen gereeld oorvol is.

Graan moet per vragmotor mark toe vervoer word, aangesien die gesteelde spoorstawe, spoorvervoer onmoontlik maak.

Op Vrede was graansilo’s al voorheen vir so lank as ‘n week gesluit.

Volgens Mike Asefovitz, ‘n woordvoerder van Transnet, steel diewe die spoorlyne in verafgeleë gebiede soos Vrede, omdat die spoorlyne daar nie so bedrywig is nie.

Die koste om ‘n spoor van sowat 1 km aan te lê, beloop bykans R2 miljoen. Die nuwe spoorlyn word weer net so vinnig gesteel.

Gawie Stols van VKB, sê plaaslike boere verdien tussen R30 en R40 minder per ton vir hulle graan omdat hulle meer vir padvervoer moet betaal. Dié landbou-organisasie moet tot 250 vragmotors huur om oor ‘n naweek graan by silo’s te laai.

Vragmotors veroorsaak ook ‘n opeenhoping van inkomende en uitgaande verkeer, omdat daar slegs een weegbrug by die silo’s is. ‘n Trein met 25 trokke kan tot 1,100 ton graan vervoer, maar ‘n vragmotor slegs 34 ton, sê Stals.

Vir boere is dit noodsaaklik om hulle gewasse sou as moontlik te stroop omdat ‘n onverwagte reënbui die graad van graan kan laat daal, wat beteken dat hy ‘n laer prys vir sy graan sal kry.