Goeie nuus is soms skaars


Om nuus aan lesers te bied is nie elke dag ewe maklik nie, veral as die nuus geklassifiseer kan word as slegte nuus. Moord en doodslag, verkragting en diefstal, kapings en wapengeweld, is maar eenmaal deel van die lewe in hierdie sogenaamde nuwe land.

Natuurlik kom die dinge ook in ander lande van die wereld voor, maar bepaald nie teem die tempo en ook nie teen die graad van wreedheid wat ons dit beleef nie.

Om nuus te bied oor die mooi van die lewe, is heerlik opwindend en salwend vir die skrywers daarvan. Ewe so is dit helend vir diegene wat dit lees.

Dit is om hierdie rede dat Die Vryburger poog om die berigte gebalanseerd aan te bied. Alhoewel dit nie altyd moontlik is om al die emosie te vermy nie, word dit met omsigtigheid gedoen.

Hierdie week kan u lees van ’n mak leeu wat toe nie so mak is nie, van hospitale en inrigtings se swak diens, en om alles te kroon, van bewerings dat Koning Dawid van die Bybel se paleis gevind is in onlangse opgrawings.

Die tragiese gebeure van nog ’n gesinsmoord en ’n seun wat breinskade opgedoen het toe hy diewe verhoed het om ’n voertuig te steel, laat jou besef hoe spanningsvol ons mense leef.

In hierdie week is daar ’n hele aantal berigte oor die swak diens in verskillende inrigtings, maar daar is ook berigte van mense wat goeie behandeling ontvang het en wat ’n vegtersgees openbaar. Dit is sulke optrede wat ons almal behoort te inspireer.

Die nimmereindigende pogings om dr. Wouter Basson te byt, staan soos ’n seer duim uit. Daarom moet ons maar gaan lees wat in Orania gebeur en hoe hulle vorentoe boer, want in hierdie land is goeie nuus meestal skaars.

Ons hoop dat klein Pippie tog die nodige veloorplantings gaan kry al is daar op die oomblik twyfel weens ’n tekort aan fondse

Vertel maar vir u vriende van Die Vryburger wat by www.dievryburger.co.za gelees kan word. Daardeur help u om die steeds groeiende leser getal verder en vinniger te laat styg.

Redakteur