Glansboek oor oer-Namibplant behaal rekordprys.


Die eerste eksemplaar van die Nasionale Botaniese Tuin Kirstenbosch se nuutste publikasie in Duits en Engels, “Welwitschia mirabilis, kronenlose Herrscherin der Namib/ Uncrowned Monarch of the Namib”, is verlede maand vir $700 (R6,968) in die Sheraton Hotel Austin, in Texas opgeveil.

Die skrywers van die boek is Ernst van Jaarsveld, plantkundige van Kirstenbosch en Uschi Pond. Die meer as 400 foto’s is deur Jürgen Obstfelder en Pond geneem. Die uitgewer is Tienwa Pers.

Kirstenbosch herdenk vanjaar sy honderdste bestaansjaar. Op 19 Julie word ‘n spesiale Welwitschia-afdeling vir die publiek oopgestel. Die amptelike bekendstelling van die boek sal dan ook plaasvind.

Die Welwitschia is ‘n uitsonderlike plant. Sy leeftyd is tussen 500 en 1,500 jaar. Geen wonder nie dat dit in die Afrikaanse volksmond as die “tweeblaar-kanniedood” bekend staan nie. Die plant bestaan uit ‘n kort stam, twee blare en wortels. Die blare is immergroen en word nooit afgeskud nie. Elke plant is óf manlik óf vroulik en moet vir sy voortbestaan bestuif word.

Ook sy oorlewing is merkwaardig. ‘n Plant in die dorste streke van die Namibwoestyn, oorleef dit grootliks van die mis wat gevorm word wanneer die koue Benguelastroom en die warm lug van die Namibwoestyn ontmoet. Die mis verdwyn so teen 10 uur in die oggend. Omdat die blare breed en lank en na onder krul kry die wortels water wat deur kondensasie ontstaan.

Die plant wat glo ongeveer 125 miljoen jaar bestaan en wat as ‘n lewende fossiel beskou word, se eerste optekening is deur die Oostenrykse botanikus Friedrich Welwitsch (na wie die plant vernoem is), gedoen wat uit 1859 dateer. Thomas Baines, kunstenaar en ontdekkingsreisiger het kort daarna ‘n botaniese skildery daarvan gemaak.

By die glansgeleentheid sal die oorspronklike kunswerke van die plant deur 32 kunstenaars van Suid-Afrika, Duitsland en Brittanje ten toon gestel word. Die kunswerke van die plant deur Thomas Baines, Francois Krige, Christine Marais en ander sal ook te sien wees.

Goudini Wynkelders sal ook twee nuwe Welwitschia-wyne bekendstel, nl: Goudini Mirabilis primus-capio (Latyn: eerste oes), ‘n cabernet en die Goudini Mirabilis Regis-filia (Latyn: koningsdogter), ‘n chenin blanc. Die plant word op die wyne se etikette uitgebeeld.