Gevegsvoertuie van SANW in diplomatieke penarie.


Indien Shakespear nie reeds sy Comedy of Errors geskryf het nie, sou hy in die nuutste optrede van die Suid-Afrikaans Nasionale Weermag genoeg “inspirasie” gekry het.

Die eerste vrag gevegsvoertuie wat vir die ingrypingsbrigade in die Demokratiese Republiek van die Kongo bestem was, is geskut saam met ‘n vliegtuig van Belarus wat gehuur is om die voertuie na Kigali, Rwanda te vervoer.

Hierdie petalje is besig om in ‘n diplomatieke tameletjie te ontwikkel. Die bemanning is in arres, hulle selfone en paspoorte is afgeneem en die weermag sal vir alle onvoorsiene uitgawes moet betaal. ‘n Brief deur die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Rwanda, Nkosinathi Twala aan die Rwandese owerheid, het geen positiewe reaksie gehad nie.

Ingeligtes het gesê dat indien die Suid-Afrikaanse regering hulle huiswerk gedoen het, sou hulle geweet het dat dit kortsigtig was om die voertuie deur Rwanda te vervoer aangesien dié land se inwoners die rebellegroep teen wie die ingrypingsbrigade moes optree, simpatiek gesind is.

Skynbaar is vier vliegtuie vir die voertuie bespreek. Hoewel die huurvliegtuig betyds in Suid-Afrika was, is die vlug vir twee dae van13 tot 15 Junie vertraag weens probleme met die klaring van die vrag. Dit het veroorsaak dat die eerste vliegtuig nie betyds terug kon wees vir die tweede vrag nie en gevolglik is ‘n ander vliegtuig na Kigali gestuur.

Die hele proses is vooraf met die lugmagbevelspos uitgeklaar en die nodige vereistes is op die klarings aangebring. Dit was ook dieselfde bevelspos wat die magtigings vir die Gupta-straler se huweliksgaste na die Waterkloof-lugmagbasis hanteer het.

Die departement van internasionale betrekkiinge en samewerking het gister gesê die aangeleentheid is die departement van verdediging se verantwoordelikheid.