Gautrein verder ontwikkel


Onderhandelings wat in die toekoms vir duisende in die noordooste van Johannesburg toegang tot die Gautrein sal gee, is tans aan die gang.

Die moontlikheid van ‘n Gautrein-stasie in Modderfontein sal dit moontlik maak. Op die oomblik is die naaste stasie vir hierdie mense dié in Marlboro of Rosebank.

Die Gautrein-bestuursagntskap (GMA) en Heartland Properties wat die grond besit is in onderhandelinge met Bombela wat die Gautrein bedryf oor planne vir die stasie.

Chantelle Mathomes, bemarkingsbestuurder van Heartland sê dat die platform vir die stasie in Modderfontein reeds opgerig is maar dat die trein daarby verbygaan aangesien die stasie se struktuur en toegang daarheen nog ontwikkel moet word.

Volgens Herman Joubert,’n ingenieur wat Heartland konsulteer, wys dit dat daar ‘n groot behoefte aan so ‘n stasie is. Bombela se syfers toon dat die Gautrein se gemiddelde getal weekdagritte van 26 000 verlede jaar tot 42 000 vanjaar toegeneem het.

Joubert hoop dat die projek binne 18 maande sal kan afskop. Oorlegpleging met die verskillende rolspelers is aan die gang en mnr. Ismail Vadi, LUR vir paaie en vervoer het bevestig dat die onderhandelinge in ‘n gevorderde stadium is.