Frankryk se kredietgradering verlaag


Die graderingsagentskap, Fitch, het bekend gemaak dat hy Frankryk se kredietgradering verlaag het van AAA na AA. Die ander twee internasionale graderingsagentskappe, Moody’s en Standard and Poor’s het Frankryk se gradering reeds verlede jaar verlaag na AA.

Fitch verwag dat Frankryk se openbare skuld aanstaande jaar op 96% van die land se Bruto Binnelandse Produk (BBP) gaan draai. Daar word van ‘n land met ‘n AAA gradering verwag dat die mediaan-verhouding van skuld tot BBP 49% moet wees.

Frankryk se sosialistiese president, Francois Hollande se regering, het sedert sy verkiesing in 2012 belastings verhoog en probeer om uitgawes te besnoei in ‘n poging om die land se hoë skuld te verlaag. Die land se ekonomiese groeivooruitsigte word deur Fitch op ‘n inkrimping van 0,3% vir 2013 gestel met ‘n groei van 0,7% vir 2014.