Eskom weerhou inligting


Dis nie net by die Medupi-kragsentrale waar arbeidsonrus en ‘n gesukkel om kontrakte suksesvol uit te voer, probleme skep nie.

Terwyl Eskom die media vertel het dat die sinchronisering van die eerste kragopwekker by Medupi met die nasionale kragnetwerk tot volgende jaar uitgestel word, is daar nie ‘n woord gerep oor soortgelyke probleme by Kusile nie.

Daar is wel genoem dat daar kommer oor die drukketel by Kusile is, maar dat die verwagting is dat dit teen einde 2014 aanlyn sal kom.

Volgens kontrakteurs wat daar werksaam is, is dit ‘n skrale hoop aangesien daar nog gereeld stakings is. Elke keer wat werkers se kontrakte tot ‘n einde kom, weier hulle om die aanleg te verlaat. Eskom dring dan aan dat die werkers betaal moet word hoewel dit strydig is met die ooreenkoms wat Eskom, kontrakteurs en die vakbonde onderteken het.

Baie kontrakteurs sukkel ook om kop bo water te hou weens laat betalings.

‘n Subkontrakteur by Kusile en Medupi, die staalvervaardiger Cosira het in Junie aansoek om sake-redding maar is kort daarna gelikwideer.

Jeffery Wiggill, ‘n direkteur van Cosira het op 12 Junie in ‘n beëdigde verklaring gesê ‘n afdeling van die maatskappy het verliese gelei weens arbeidsonrus, logistieke probleme en gehaltekwessies.

Sewe dae later is Wiggill dood gevind in die veld by Soweto. Hy is verskeie kere in die kop geskiet.