Eskom plan teengestaan


‘n Massiewe kragkabel wat Eskom oor plase in die Vivo-distrik wil span, het die boere erg omgekrap.

Nie net die wild- aartappel- en veeboere van die omgewing nie maar ook Birdlife Soutpansberg en Vriende van Blouberg skop ook teen die kragdraad. Hulle meen dat so ‘n hoogspanningsdraad die voortbestaan van sowat 3 000 aasvoëls sal bedreig.

Die aasvoëls wat in die Bloubergnatuurreservaat woon is die grootste aasvoëlkolonie in die wêreld.

Eskom beplan om ‘n 400 kV-kragdraad van Mokopane na die Bokmakierie-substasie by Nzhele in die Limpoporivierkom aan te lê. Meer as 50 boere en en eienaars van 87 plase in die streek, asook verskeie nie-regeringsorganisasies, het in talle briewe en verklarings hulle beswaar teen die kragdraad uitgespreek. Hulle sê dit sal die einde van Vivo beteken wat landbou, die wildbedryf asook veeboerdery in die gebied sal insluit.

Eskom sê dat die kragdrade wat van Mokopane na Nzele teen R2.4 miljard aangelê word een van die eerstes sal wees wat krag van Medupi by die netwerk sal integreer. Volgens Eskom is die krag hoofsaaklik vir mynbou bedoel. ‘n Verdere doel is ook om in die kragvoorsiening van die bevolking te voorsien.

Erika Helm, verteenwoordiger van die Vivo-boerevereeniging het gesê die boere meen dat die proses gestoomroller word en dat die omgewingsinpakstudies nie behoorlik gedoen is nie. Sewe-en-vyftig vrae is nog onbeantwoord. Helen Mlotshwa van NHS het gesê daar is drie voorgestelde roetes vir die kragdraad. Die uitslag van die omgewingsimpakstudies sal oor twee of drie maande bekend wees.

Erika Helm het gesê van die grootste aartappelboere in die land het besproeiingsplase hier. Hulle sal hul bedrywighede nie onder hoogspanningsdrade kan voorstsit nie omdat hulle spilpunte vir besproeiing gebruik. Hulle sal ook nie gewasse uit die lug kan bespuit nie.

As die boere wegtrek uit die omgewings sal die Vivo doodbloei, het sy gesê.