Ek sien dit so!


Baie welkom by die vyftigste uitgawe van hierdie rubriek. Neelsie is inderdaad baie dankbaar teenoor ons Hemelse Vader vir hierdie grootse voorreg om deel te kan hê aan die ontwakingstaak van ons grootliks blinde ou volkie.

Ek het bietjie deur die vorige uitgawes van hierdie rubriek gaan snuffel, en heel interessant, afgekom op ‘n stuk wat vandag meer relevant is as toe dit ‘n jaar gelede geskryf was in die derde uitgawe van hoe ek dit sien. Maar net gou die volgende.

Die heel eerste paragraaf van “Ek sien dit so!” was soos volg:

“Sunette Bridges versus Anton Goosen! ‘n Heel onregverdige bekgeveg as iemand my sou vra. Met Sunette, ‘n dame wat kán sing, die dogter van ‘n geliefde sanger, een wat nogal ook kón sing, goeie ou Bles, aan die eenkant. En iemand wat ‘n mens, wie verantwoordelik was vir die plant van bomme, verafgod, aan die anderkant.”
Dis seker nie nodig vir my om uit te brei waaroor bogenoemde gegaan het nie.

Soos bo vermeld, is die volgende stuk die volledige “Ek sien dit so!” nommer drie.

“Jong, laat ek julle nou ‘n ding of twee vertel! Hierdie spul mediamense is darem maar ‘n spesie op hul eie. Die vraag ontstaan onwillekeurig by my of die woordjie “nuuswaardig” vir Jan Publiek, dieselfde betekenis het as vir die skepsels wat hierdie “nuuswaardige” stories skryf.

Eers was dit die bohaai rondom Anton Goosen en Sunette Bridges, met eensydige beriggewing vanuit ‘n ultra-liberale oogpunt geskryf. Laat ek darem hier net ‘n lansie breek vir die baie objektiewe beriggewing van ons eie Volkskoerant, Die Vryburger. Ek glo dis nodig om die ander kant van die saak te stel, en daarin was ons koerantjie suksesvol, veral aangesien Sunette een van ons eie is. Nou is dit Amor Vittone wat skynbaar nie kan wag vir Joost om die emmer te skop nie. My vraag is eenvoudig die volgende: Wie gee om? Daar is mos belangriker sake om aandag aan te skenk as die wrywing tussen twee geskeides.

Hoeveel van ons mense moet nog gemartel, verkrag, en vermoor word voordat hierdie gevalle elke dag die voorblaaie van alle koerante haal? En nie net haal nie, sommer ook met ware feite, soos dat die aanvallers nie boewe of rowers was nie, maar haatdraende terroriste wat daarop uit is om ons te intimideer met hul barbaarse modus operandi. Natuurlik sal die liberale pers mos die “ligpunte” uitlig nadat mev. Annette Knoetze(64) koelbloedig vermoor is. In plaas daarvan om te fokus op die barbaarsheid van die aanval, fokus hulle liewer op hoe saggeaard die dame was. Met die grootste respek, dit het niks met die artikel uit te waai nie. Laat ons eerder fokus op hoe barbaars die stomme vrou vermoor is. Laat die koerante dan werklike meegevoel wys deur ‘n opvolgartikel te plaas met die slagoffer se goeie eienskappe. Mens kan mos nooit die goeie met die slegte in een artikel saamsnoer nie…of is ek totaal onkundig, blind, en breindood? Indien wel, dan dra ek daardie eienskappe met trots!

Boere-Afrikanervolk, ek praat nou met julle, hou op om julle hardverdiende geldjies te mors op media wat die volksmoord op ons mense doodswyg. Kanaliseer daardie geld eerder na mense wat soos julle lyk, dink, en voel.

Moenie geflous word nie, indien jy wel geflous word, moenie nog daarvoor betaal ook nie!”

En steeds gaan die stryd om reg en geregtigheid voort. Ek hoop en vertrou dat u as getroue leser van ons volkskoerant, nog met ons sal wees om die honderdste uitgawe van knorrige Neelsie se sienings te kan lees.

Vriendelike Boeregroete,
Kordaat Neelsie