Ek sien dit so!


Nadat Neelsie verlede week die kwessie rondom die Naspers-boikotaksie aangeraak het, het hy dit goed gedink om hierdie week die saak weer bietjie aan te roer.
Die groep op Bakkiesblad genaamd “Boikot Naspers! Genoeg is genoeg!”, kon teen Maandagaand spog met reeds meer as 9 000 lede. Dit is glad nie sleg vir ‘n groep wat maar een week gelede in die lewe gebring is nie. Die fenominale groei het almal betrokke verras en is ‘n tweede blad in die lewe geroep wat groter volumes mense kan hanteer. Van Neelsie se kant af, baie geluk aan almal wat tot hierdie positiewe aksie bygedra het. Dis slegs die begin, maar ‘n baie goeie een!

Saam met elke bietjie goeie nuus, word daar ook die brokkie slegte nuus saamgesleep. Ons mense sluimer steeds voort asof alles normaal en onder beheer is. Wanneer gaan die gewone Afrikaner tot die besef kom dat hy en sy nageslag se toekoms in gedrang is? Wat sal hierdie Afrikaners se oë laat oopgaan? Miskien is hierdie vrae onvanpas, miskien moet die handjievol regdenkendes tot die besef kom dat hulle vandag, more en tot in die verre toekoms altyd in die minderheid sal wees. Dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie, aangesien meer nie altyd beter is nie. Ek reken dat as hierdie klein groepie Bittereinders geweeg moet word, hulle veel meer sou weeg as die breëspektrum Afrikaner wat tans gelukkig is om voort te ploeter in die sogenaamde reënboognasie.

Dalk moet ek nie so vinnig tot die gevolgtrekking kom dat daar nie volksgenote iewers mag wees wat nog die lig sal sien nie. Vir hierdie rede sal ek die volgende baie belangrike inligting met die getroue lesers van Die Vryburger deel.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) is die amptelike fasiliteerder van verkiesings in Suid-Afrika. Hulle is byvoorbeeld verantwoordelik vir die reëlings met betrekking tot die nasionale verkiesings wat elke vyf jaar gehou word. Terloops, verkiesings waaraan Neelsie nooit sal deelneem nie. Dan is daar die Volksraadverkiesingskommissie (VVK) wat in die lewe geroep is om verkiesings vir die Afrikaner in besonder te fasiliteer. Hierdie verkiesingskommissie het reeds een baie suksesvolle verkiesing gereël waarin die geregistreerde kiesers hul eie Volksraad kon verkies. Die verkiesing het plaasgevind op 24 September 2011, en die eerste Boere-Afrikanervolksraad bestaande uit nege Volksraadslede is verkies. Om meer hieroor uit te vind, besoek gerus die volgende twee webtuistes. www.vvk.co.za en www.volksraad.co.za .

Elkeen wat sy of haar nageslag se belange op die hart dra, sal sonder versuim registreer op die VVK se kiesersrol om sodoende die Volksraad se hand te sterk. As elkeen van ons sou wag tot daar eers ‘n miljoen kiesers geregistreer is voor ons self registreer, sou daar tans niemand op die kieserslys gewees het nie. Iemand moet voorloop en die voorbeeld stel, daardie 40 000 geregistreerde kiesers het dit gedoen, nou moet die volgende golf breek en daardie getal ten minste verdubbel. Dis die minste wat jy kan doen.

Wees wakker hierdie komende week, moenie onkant betrap word deur barbare wat dit hul lewenstaak gemaak het om jou en jou naastes se name op die Volksmoordlys te laat verskyn nie.

Boeregroete,
Kordaat Neelsie