E-tol se planne met jou


Sodra e-tol ingestel word gaan Sanral talle mobiele wetstoepassing-eenhede by tolpaaie se afritte van Sentraal Transvaalse hoofweë laat staan om wanbetalers van e-tol gelde vas te trek.

Die voertuie gaan glo die hoofweë patrolleer om agterstallige oortredings te vervolg.

Sanral sal per geregistreerde pos die boetes moet stuur, wat dan later kan lei tot dagvaardings vir motoriste om in die hof te verskyn.

Dié metode gaan waarskynlik ’n onoorbrugbare las op die posdiens en veral op die howe plaas. Die howe het aangedui dat hulle nie voldoende hulpbronne en genoeg mannekrag het om dié bykomende las te hanteer nie.

’n Woordvoerder meen dié metode van vervolging gaan nie administratief intensief wees nie omdat alles elektronies sal plaasvind.

Volgens berekeninge van die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) wat in hofstukke vervat is, sal die stelsel en howe sowat 2,1 miljoen dagvaardings moet hanteer as vervolging so plaasvind.

Wanneer die uitvoerende hoof van Sanral bereken dat sowat 7% van mense nie hul tolgeld gaan betaal nie, beteken dit dat binne ’n week na die e-tol in werking tree, gaan sowat 70, 000 dagvaardings uitgereik word.

Indien die helfte van die mense wat gedagvaar is, in die hof moet verskyn, beteken dit dat sowat 35, 000 hofsittings per week gehou moet word, afgesien van die bestaande sittings wat nou reeds ’n oorbelading van howe toon.

Kenners meen die stelsel gaan chaos veroorsaak en mense gaan rekenings en dagvaardings kry wat nie die pad gebruik het nie. Sulke mense sal dan in die hof moet gaan bewys dat die pad nie gebruik is nie.