E-tol kan enige tyd ingestel word.


Pres. Jacob Zuma sal bepaal wanneer die omstrede e-tolstelsel ingestel word.

Adjunk-minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, het gesê die Wet is by pres. Zuma en hy moet besluit of hy dit in die huidige vorm gaan afteken, en of hy vir veranderings gaan vra.

Volgens haar is die tariewe reeds in die Staatskoerant gepubliseer en die Suid-Afrikaanse Nasionale padagentskap (Sanral) en die Dept. van Vervoer is gereed om met e-tol voort te gaan.

Wayne Duvenhage, voorsitter van Outa, wat die hofgeding teen die stelsel begin het, meen die regering is nie gereed om e-tol in te stel nie. Volgens hom het hulle op 10 April aangekondig dat hulle die stelsel binne twee maande gaan instel.

Hy sê die regering kan maar wetgewing instel, maar as die samelewing dit nie aanvaar nie, gaan die stelsel nie volhoubaar wees nie.