Droogte vernietig alles in Noord-Kaap


Die erge droogte in die Noord-Kaap laat mens en dier steier weens ’n tekort aan kos en water.

Dele van die Kalahari is in ’n erge droogte vasgevang en die boere is bitter ontevrede omdat hulle aansoek om droogtehulp nie gehoor word nie want “daar is nie vir ’n droogte begroot nie”.

Boere wat hulle lewe lank daar gevestig is, sê die droogte is waarskynlik een van die ergstes in die afgelope vier dekades.

Plaasdiere vrek omdat kos en water ontbreek, en baie diere moet keelaf gesny word omdat daar geen ander uitkoms is nie.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se plaasdier-beskermingseenheid het blykbaar by geleentheid ingegryp en opkomende boere in die landelike gebiede probeer help met bale voer, mielies en molasse. Dit is aan sowat 400 stuks vee voorsien, wat donkies, beeste, skape en perde insluit.

“Die mense van die gebied het nie meer geld om voer te koop nie, die gras groei nie en as die wind nie waai nie, het ons nie eers water vir die diere nie,” sê mnr. Moolman, ’n boer van die omgewing naby Kuruman.

Johan van Rensburg, hoof van Agri Noord-Kaap, sê daar is groot gebiede wat onder die die toestande van droogte steier, en dele is reeds rampgebiede.

Pieter Grové van die Severn-Boerevereniging sê sommige boere moes reeds ’n noodslagting van topgehalte aanteelkoeie doen, of verkoop, net om hul beeskuddes te verklein.

Die toestande is vererger met die voorafgaande veldbrande vroeër vanjaar.

Van die boere wat finansieel daartoe in staat is, huur ander plase verder weg se weiding vir hul vee of hulle voer hulle met die reste wat van hoenderplase aangekoop word.

Elke boer hoop en glo die komende reënseisoen sal ’n geseënde een wees.