Drakie kan nie wag om terug te gaan berge toe nie.


‘n Twaalfjarige seunsopraan, Dean Cronje, wat ernstige beserings in ‘n motorongeluk opgedoen het, kan nie wag om hom weer by die geledere van die Drakensbergse Seunskoor aan te sluit nie.

“Die soprane is nie dieselfde sonder my nie,” het hy hy onbeskroomd by sy ouerhuis in Warmbad gesê.

Dean is einde April ernstig beseer toe die toerbus naby die De Hoek-tolhek teen sy ouers se motor vasgery het. Afgesien van ‘n gebreekte kakebeen, het sy longe platgegeval en is sy lewer, pankreas en niere ook beseer.

Volgens sy ma Lillian het hy ook ligte breinskade opgedoen, maar gelukkig het sy stembande niks oorgekom nie.

Sy ander groot droom om rugby op Grey Kollege te speel na sy tydperk as Drakie, sal nie meer verwesenlik kan word nie.

‘n Arbeidsterapeut help Dean met sy motoriese vaardighede en hy kry swemterapie om sy longe te versterk.

“Ek mis die sang en kan nie wag om terug te gaan nie,” sê hy. Die skoolhoof, Anton Redelinghuis, het gesê hulle sien uit na sy terugkeer.