Dr. Wouter Basson alweer vervolg.


Nie tevrede daarmee dat Dr. Wouter Basson, die voormalige Nasionale Party-regering se ekspert op chemiese en biologiese oorlogsvoering, jare gelede reeds op alle aanklagte onskuldig bevind is nie, moet hy nou nie net sy reputasie nie, maar ook sy loopbaan verdedig.

Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) poog nou om hom weens “etiese redes” van die mediese rol te skrap.

Die regspan van die RGB is in ‘n tugverhoor van dr. Basson toegelaat om getuienis wat destyds voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gelei is, in kruisondervraging te gebruik.

Luitenant-generaal Niel Knobel, voormalige geneesheer-generaal van die weermag is onder kruisverhoor. Die verklaring waarna verwys word, is afkomstig van dr Knobel se eie WVK-getuienis.

Adv. Salie Joubert SA., het namens die RGB die paneel versoek om ‘n verklaring uit Knobel se WVK-getuienis in sy kruisondervraging te gebruik. Hy het gesê dat dr. Knobel sy eie getuienis voor die tugpaneel weerspreek het en dat daar reeds in 1979 bewyse was van die gebruik van sulke wapens teen Unita.

Dr. Knobel het in sy antwoord gesê dat Joubert die getuienis buite konteks lees en dat hy getuig het dat die weermag se bevelvoerders reeds in 1979 sulke gevalle gerapporteer het, nadat hulle bewus geraak het dat die Kubaanse troepe oor verdedigingstoerusting teen chemiese en biologiese wapens beskik het.

Adv. Jaap Cilliers SA., namens Basson, het gesê die WVK-verklaring het omtrent nege aanhangsels wat nie voor die paneel is nie en waarsonder die verklaring nutteloos is, omdat dit nie in konteks beskou kan word nie.