Doornpoort word myndorp


Dit wil voorkom asof Doornpoort ’n “myndorp” kan word met die toestemming wat aan Sable Platinum, gegee is om vir platinum te prospekteer, mag nou ook boorwerk doen om te prospekteer vir vanadium en ystererts.

Die Departement van Minerale bronne het Sable se aansoek goedgekeur om op die plaas Doornpoort 295JR, wat net deur die N4 Bakwena-hoofweg van die Doornpoort-woonbuurt geskei word, vir dié minerale te prospekteer.

Hierdie goedkeuring is toegestaan ten spyte van die Doornpoort-inwonersvereniging se besware tydens ’n onlangse vergadering waar dit uitdruklik gestel is dat die prospekteerders nie ’n myn op die inwoners se “voorstoep” gaan duld nie.

James Allan, uitvoerende hoof van Sable, het bevestig die bykomende aansoek is reeds goedgekeur om te prospekteer.

“Ons is tans in gesprek met die grondeienaar om vas te stel wanneer ons vir vanadium, ystererts en rutiel sal kan begin prospekteer,” het Allan gesê.

“Indien die prospektering suksesvol verloop, sal ons om mynregte aansoek doen,” het hy gesê en benadruk dat die beplanning sodanig is dat die myn aktiwiteite nie ’n invloed op Doornpoort inwoners sal hê nie.