Digitale toestelle stel kinders bloot aan vroeë demensie.


Langdurige blootstelling aan syfertaal (digitale) toestelle stel kinders bloot aan vroeë demensie. Hierdie stelling is deur mediese dokters in Suid-Korea gemaak.

Volgens ‘n berig in ‘n koerant in Suid-Korea, een van die voorste tegnologies ontwikkelde nasies op die planeet, is daar ‘n groot risiko vir jong kinders wie se breine nog in die ontwikkelingstadium is. Gevalle van geheue- en konsentrasieprobleme onder kinders neem skrikwekkend toe.

Die dokters skryf die probleme toe aan te veel ure wat op webwerwe spandeer word en televisiespeletjies. Volgens hulle lei dit daartoe dat die regterkant van die brein nie genoeg ontwikkel nie wat die geheue en konsentrasievermoë van die kind aantas.

“Die oorgebruik van slimfone en speletjies hinder die gebalanseerde ontwikkeling van die twee gedeeltes van die brein,” sê Byon Gi-won, ‘n dokter by Seoul se Gebalanseerde Breinsentrum. “Swaar gebruikers van hierdie toestelle ontwikkel slegs die een kant van die brein, wat die ander gedeelte onderontwikkeld laat,” het hy gesê.

In ‘n verklaring het die regering se Mediese Versekeringsoorsigsdiens gesê dat die aantal Koreane tussen 20-40 jaar oud wat kognitiewe probleme ondervind gestyg het.

Ook in Suid-Afrika word daar in versigtige taal na hierdie probleem verwys. ‘n Sielkundige wat om professionele redes nie sy naam wil noem nie het gesê dat hulle nou al hoe meer te doene kry met tieners en adolosente wat sukkel met verbale interaksie met ander mense. As voorbeeld het hy genoem van ‘n jong seun wat hy behandel het wat gladnie met hom kon kommunikeer nie behalwe om voor hom te sit en teksboodskappe vir hom te stuur.