Die stryd om Vryheid


Dwarsoor die wêreld is daar groepe wat op die een of ander manier, gewoonlik vreedsaam en wettig, hulle vir die onafhanklikheid van hulle volk beywer. Daar is ‘n gesegde wat sê dat ‘n vryheidstryd gaan nooit verby nie, dit ondervind terugslae of sukses, maar dit is ‘n stryd wat elke geslag van nuuts af moet baklei.

As ‘n mens in gedagte hou dat 5,000 volkere, dikwels bestaande uit verskillende groepe en rasse, in 189 nasiestate saamgeforseer is, is dit byna vanselfsprekend dat daar altyd ‘n soeke na soewereiniteit sal wees.

In Amerika is daar heelparty state wat nou wil afstig. As ons van ver af na hulle pogings kyk en besluit dat dit nie gaan slaag nie, dan kan ons ook nie die wêreld kwalik neem as hulle nie met simpatieke oë na ons stryd kyk nie. Miskien sal dit die moeite werd wees om nouer kontakte met hierdie groepe te maak, ten minste sal hulle ons saak goedgesind wees en goeie vriende is altyd welkom.

Teen hierdie agtergrond gaan ons oor die volgende paar maande kyk na die strewes tot onafhanklikheid in ander dele van die wêreld.

Sardinië.

‘n Sosiaal-demokratiese en nie-geweldadige politieke party (Indipendèntzia Repùbrica de Sardigna, iRS), staan aan die spits van hierdie eiland se soeke na sesessie van Italië.

Dit is interessant om te onthou dat dit Sardinië en sy koning, Viktor Immanuel, was wat in die Tweede Italiaanse Vryheidsoorlog,(1859) die provinsie van Lombardye bevry het. Met die hulp van Giuseppe Garibaldi en Graaf Cavour is Italië in 1861 verenig.

Dit is miskien te verstane dat die huidige bewoners van Sardinië nie genoë sal neem met die politieke situasie in die land nie.

Die idee rondom afstigting van Italië het by drie intellektualiste begin wat die ondersteuning van ‘n klein politieke party gekry het. Hulle kandidaat, Gavino Sale, het goed gevaar in die streeksverkiesings en van die ander politieke partye het hulle eensgesind met die idee verklaar.

In 2008 het Sale ‘n eensydige onafhanklikheidsverklaring uitgereik, waarin hy genoem het dat die eiland beoog om ‘n belastinghawe vir internasionale rykes te word; ietwat geskool op die idee van Monacco.

Interne probleme het veroorsaak dat die saak nie verder aangevoer is nie. Die konflikte was meer oor bestuurstyl en nie ideologies. Van die jonger garde het die oueres as oud-modies beskuldig.

Nietemin moet interne konflik nie met die vryheidstrewe, wat steeds lewendig is en sterker groei, verwar word nie.