Die bloeddruk styg soms vinnig


Hierdie week se berigte vul mens met gemengde gevoelens en soms word die bloeddruk met moeite in toom gehou. Die ergste graad van verwronge insig is waarskynlik die uitlating dat ’n mens “nie alles vir die waarheid kan aanvaar wat in die Bybel opgeteken staan nie”.

Hieroor kan wyd en breed gepraat word. Dit sal interessant wees om van die voormalige aartsbiskop te hoor wat alles in die Bybel opgeteken staan wat nie die waarheid is nie!

Dit is bemoedigend as gelet word op die prestasie van volksgenote. ’n Eerstejaar student wat beskou word as die beste ter wereld met sy prestasie in ’n wiskunde oefening. Dit staan in skrille kontras met wat ons lees oor die Suid-Afrikaanse studente in Kuba wat blykbaar ’n redelike mate van weelderige lewe voer op staatskoste.

Die hele klomp aasvoëls wat vergiftig is op ’n boer se plaas, is ’n jammerlike gebeurtenis. As die boer skuldig is, dan wonder mens waar en hoe hy sy kudde kan beskerm. Uiteindelik bly dit ’n moeilike saak – aan die een kant is daar die jakkalse wat sy diere vang, aan die ander kant moet hy waak teen vergiftiging van voëls wat ook hulleself kos moet soek.

Die ma wat haar eie kind doodskiet is ’n tragedie. Hoe ’n mens ook al daarna kyk, durf ons nie vinger wys nie, en durf ons nie veroordeel nie. Ons hoop sy kry berusting en vrede in haar gemoed.

Die verkiesing in Zimbabwe blyk maar ’n saak van omstredenheid te wees. Reg en geregtigheid het blykbaar maar ’n geringe kans om te seëvier in daardie land wat deesdae bykans net so verdeeld is in homself as hierdie land waarin ons is. As die verkiesing “vry en regverdig” verklaar gaan word, sal menige mens dit met ’n knippie sout neem. Die opposisiepartye ervaar waarskynlik iets soortgelyk as wat in Suid-Afrika ervaar is in die jare toe die NP sekere dinge gedoen het om sy staanplek as regeerder te behou….…..

Hierdie uitgawe rapporteer weer oor moord op volksgenote, maar ook van ’n ouer dame wat met ’n skokapparaat gemartel is. Dit is nuus wat ’n regdenkende laat besef die tyd van barbarisme is nog nie verby nie.

As kinder nie meer getugtig mag word in die ouerhuis nie, gaan baie mense ontevrede wees en ander gaan die wenkbroue lig. In ’n Westerse beskawing soos wat Suid-Afrika voorheen geken het, is onregmatige tugtiging nie geduld nie. Daarvoor het Kerke, maatskaplike werkers en selfs die polisie gesorg dat oortreders aan die pen ry. Dit was gewoonlik die uitsondering op die reël, maar ouers het van die vroegste dae in ons volksbestaan die onnutsigheid met riemspring gestop.

Ons bring aan u nuus wat saakmaak en poog om u op daardie wyse op hoogte van sake te hou.

Redakteur