Burgemeesters geroskam


David Mabuza, die Oos-Transvaalse ANC-premier, het tydens ’n sogenaamde leiersberaad waar talle burgemeesters teenwoordig was, gesê die leiers gaan hulle poste verloor omdat hulle nie hulle werk doen nie.

Hy het daarop gewys dat nog talle munisipaliteite in Oos-Transvaal binnekort onder kuratorskap geplaas gaan word omdat dienslewering en behoorlike bestuur nie toegepas word nie.

“Ek kry die gevoel julle as burgemeesters lei nie meer jul stadsrade met passie nie en julle inwoners se geduld is op en hulle gaan julle uit die kussings lig,” het hy gesê.

Mabuza het die leiers getakel oor deurlopende probleme met dienslewering wat tot gereelde gewelddadige betogings lei.

“Ons is 19 jaar aan die bewind. Die tyd om te leer om ’n raad te bestuur en behoorlik diens te lewer, is verby,” het hy gesê en afgesluit met die gedagte dat dit verontrustend is dat munisipale leiers soms met misdadigers heul om te steel.
Foto – Mabuza