Breytenbach ongrondwetlik hanteer deur NVG


Adv. Glynnis Breytenbach se grondwetlike- en arbeidsregte is deur die vervolgingsgesag geskend. So het Andrew Ridding vir die arbeidshof gesê omdat die NVG haar nie in haar pos heraangestel het nie.
Volgens Ridding is dit ‘n gronwetlike oortreding en ‘n skending van die grondwetlike vereiste. Hulle het volgens hom kontrakbreuk gepleeg deur haar te verplaas na ‘n posisie wat nie dieselfde is as wat sy voorheen beklee het nie.

Ridding het gesê dit is duidelik dat Breytenbach weerhou is om aan ‘n sekere saak te werk.

Die aansoek is daarop gemik om die nasionale vervolgingsgesag (NVG) te keer om haar uit haar pos as streekshoof van die gespesialiseerde misdaadeenheid in Pretoria te verwyder.

Breytenbach is in April 2012 geskors vir haar hantering van die mynregte-dispuut tussen Imperial Crown Trading (ICT) en Sishen/Kumba.
Breytenbach is in ‘n tugverhoor op 27 Mei onskuldig bevind op 15 aanklagte teen haar. Een van die aanklagte was dat sy ‘n “onbehoorlike verhouding” met Sishen se prokureur, Mike Hellens gehad het. Sy het beweer dat haar skorsing ‘n poging was om die vervolging van die polisiebeampte Richard Mdluli te verongeluk.
Hoewel sy toegelaat is terug te keer werk toe is sy na ‘n ander afdeling oorgeplaas.