Bom by kleuterskool saai paniek


Meer as 10, 000 mense moes verlede week in Hongarye inderhaas ontruim word toe ’n bom uit die Tweede Wêreldoorlog langs ‘n kleuterskool gevind is.

Die bom, ’n 100 kg Sowjet, is in die stad Szekesfehervar, naby ’n kleuterskool opgespoor. Dit is ongeveer 60 km buite Boedapest gevind.

Die bom wat sowat 25kg springstof bevat, kan verwoesting saai as dit nie met die nodige kundigheid hanteer word nie.

Die stede en dorpe in Hongarye was in die doodsnikke van die oorlog uitermatig
deur Amerika, Brittanje en die Sowjet-magte gebombardeer.

Sedert 2008 moes 15 operasies van ontruiming gedoen word in die omgewing in en om Boedapest. Die polisie moes juis verlede Woensdag 1, 500 mense in Boedapest ontruim toe ’n ander bom gevind is waar bouwerk aan ’n blok woonstelle gedoen is.