Boere-Afrikaner Volksraad distansieer hom van Orania opmerkings


In n skerp bewoorde verklaring het die voorsitter van die Boere-Afrikaner Volksraad hom skerp uitgelaat oor die siening van Carel Boshoff.
Die volledige verklaring van die voorsitter, mnr. Andries Breytenbach lui soos volg:

Terwyl die Boere-Afrikanervolksraad en talle volksgenote dit eens is met Orania en die vryheidstrewe waarmee die nedersetting geassosieer word, distansieer ons ons van mnr. Carel Boshoff se verklaring in die Orania-Nuusbrief van 2 Julie 2013.

Groot klem word in die verklaring en die voorafgaande verduidelikende perspektiewe geplaas op Mandela se “nalatenskap van erkenning en versoening”:
– erkenning deur “Mandela en sy regering” van Orania as “die belangrikste konkrete beliggaming van die Afrikaner se vryheidstrewe”; en
– versoening, waardeur “die moontlikheid van volskaalse gewapende konflik in Suid-Afrika, waarby Afrikaners noodwendig groot skade sou ly,… deels… afgeweer (is)” en “ons in staat gestel (is) om ons vryheid langs vreedsame en opbouende weg na te streef.”

In een van die bewysstukke wat tydens die Rivonia-verhoor voorgelê is, het Mandela geskryf:
“…in ons land word die stryd van die verdrukte massas gelei deur die S.A. Kommunistiese Party en begeester deur sy beleid… Die volk (‘people’) van Suid-Afrika, gelei deur die S.A. Kommunistiese Party, sal die kapitalistiese samelewing vernietig en in sy plek sosialisme bou. Die oorgang kan nie bewerkstellig word deur stadige veranderings of deur hervormings… nie, maar deur rewolusie. ‘n Mens moet daarom ‘n revolusionêr wees en nie ‘n hervormer nie.”

Omdat wyle dr. Verwoerd grondig begryp het watter rampspoedige gevolge dié soort denke en strewe asook die manier waarop dit teweeg gebring sou word, vir die beskawing en die blankes in Suid-Afrika ingehou het, het hy in reaksie op suggesties dat Mandela nog die leier van die toekoms kon word, gesê:
“Hierdie mense is misdadigers, Kommunistiese misdadigers… God verhoed dit”.

Hoe reg dr. Verwoerd die saak vooruitgesien en beoordeel het, word deur die geskiedenis van die afgelope twintig jaar bevestig. Mandela en sy geesgenootlike opvolgers se optrede loënstraf die beweerde erkenning en versoening. Nooit het dit hulle daartoe gebring om die Boere-Afrikanervolk se reg op vryheid te erken of die voortgaande moord op ons volk, waardeur ons van ons ganse eiendomlike beroof word, te veroordeel nie, laat staan nog te stop. Inteendeel, ons aandrang op vryheid word geïgnoreer en die moord op ons volk word ontken en deur hulle optrede effektief aangemoedig.

Mandela se gebare van “versoening” is om ons volk in sy onderwerping ná De Klerk se vernederende kapitulasie te hoon. Dit herinner sterk aan die konsentrasiekampmoordenaar en landverwoester, lord Kitchener se “versoenende” handreik na genl. De Wet met die woorde: “we are good friends now”, ná die Boereleiers se gedwonge ondertekening van die Vereenigingse Vredesverdrag. De Wet het hom geïgnoreer en die nag ingestap, diep bedroef oor die verlies van sy vaderland, na al die lyding en dood wat sy volk getrotseer het om dit te behou.

Wat beteken erkenning van Orania nadat ‘n hele volk sy vryheid en sy vaderland verloor het, en onder ‘n Grondwet ingedwing is wat ons volk se ganse geestelike grondslag verloën, sonder die gerinigste moontlikheid daar te stel om op konstitusionele wyse weer daaronder uit te kom?

Hoe sterk die Volksraad hom ook al met Orania en Kleinfontein vereenselwig, moet ons perspektief behou en besef dat dié nedersettings, wat nie eers volwaardige dorpe is nie, ‘n karikatuur is van die vryheidsideaal waarvoor ons voorouers 175 jaar gelede hul geboorteland verlaat en die wildernis ingetrek het.

Ons volk se vryheidstrewe sal geen skade ly as diegene wat nie kans sien om hulle teenoor Mandela se politiek testament op te stel nie, dan maar net daaroor swyg nie, want onnodige verklarings skep die indruk dat daar meegesing wil word in die koor van roubeklaers om tog ook maar gehoor te word. Ofskoon die media die ou terroris wêreldwyd tot ‘n afgod verhef het, het die Boere-Afrikanervolk niks aan hom nie.

Andries Breytenbach