Boer sukkel met plakker.


‘n Boer van Lichtenburg sukkel nou al vier jaar lank om van ‘n onwettige plakker ontslae te raak. Die plakker, Ephraim Peterson betaal ook nie vir die elektrsiteitsverbruik nie.

Die eienaar van die plaas, Louis de Beer sê hy het Eskom sedert 2010 verkeie kere versoek om die krag na die huis af te sluit, maar daar is steeds krag. Eskom sê hulle ondersoek die saak.

De Beer sê Peterson se pa het baie jare vir hom gewerk. Die huis is een van ‘n paar goed toegeruste huise wat De Beer vir sy werkers gebou het. Intussen het die meeste afgetree of verhuis.

Volgens De Beer het Peterson vir ‘n paar maande vir hom gewerk maar toe gedros. In 2009 het hy teruggekom na die huis waar hy gebore is. De Beer sê dat hy Peterson kort nadat hy ingetrek het, met prokureursbriewe beveel om te trek. Hy het geweier en die polisie het gesê hulle kan nie help nie.

‘n Regsgeleerde het gesê dat ingevolge die Wet op Uitbreiding van Verblyfsekerheid word aanvaar iemand het toestemming om op ‘n plaas te woon as hy ‘n jaar lank openlik daar gebly het.