Boer eis duisende van munisipaliteit


Mnr. Hendrik Odendaal (33) van Oos-Transvaal het vlak buite ’n sport-kroeg in ’n oop mangat geval waar menslike afval en kondome was en eis nou R255, 000 van die munisipaliteit in Oos-Transvaal.

Luidens ’n sielkundige verslag wat deur sy regsverteenwoordigers by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is, het Odendaal sielkundige trauma opgedoen.

In die verslag word aangedui daar was glo geen beligting op die sypaadjie buite Jungle Inn Pub & Grill in Leslie nie en hy het in die rioolgat geval. Dit was glibberig en hy het gesukkel om uit te kom. Die verslag meld ook dat hy water gesluk en paniekerig geraak omdat hy nie kon uitkom nie.

Hy het toetse vir moontlike siektes ondergaan en medisyne gebruik om siektes te voorkom.

Die verslag sê ook dat hy simptome van post-traumatiese stresversteuring getoon het.