Blaf brakkie blaf!


Ek het nooit gedink ek sou dit sê nie, maar mens mis nogal die ou jeugliga met Mal-emma aan die stuur. Ja hulle het op die meeste mense dieselfde uitwerking gehad as ‘n koelteridder wat uit die bosse uit voor jóú inspring terwyl daar nounet ‘n taxi verby hom is wat met kougom en tandeflos aanmekaar gehou word, maar ten minste het hulle gesorg vir opwinding en taamlik gereeld vir iets om voor te lag! Dit was soos ‘n Rottweiler wat blaffend en kwylend op jou afstorm, sodat jy vir ‘n oomblik reg is vir oorlog, reg om met die kaal hande tot die dood toe te veg met die dier, net om net betyds te onthou dat dit jou ouma se 25jarige tandlose stokblinde ou Brutus is! Sodra jy dit besef, weet jy hy is skadeloos en kan jy vir hom lag en binnesmonds vir jouself giggel omdat jy vir ‘n oomblik geskrik het vir die impotente dier. Hulle het ten minste die volk op sy tone gehou!

Die probleem met die nuwe liga is dat hul nie in dieselfde liga is nie. Die nuwe liga is jou ouma se ander hond. Die 28jarige, tandlose, doofstom, blinde, brandsiek Toy Pom, Fifi. Hulle werk mens nie eers meer op nie! Die ergste ongerief wat hulle jou kan veroorsaak is as jy in een van hulle sponsdorings trap, terloops ook die enigste manier hoe jy weet dat hulle in die omgewing was is as die plek besaai lê met van hierdie stankslagysters!

Elk geval is die hele relaas tot hier net die voorwoord tot wat ek uiteindelik nou by wil uitkom. Die nuwe jeugliga het probeer blaf. Mens verwag meer geraas uit so toi-toi pom, maar nietemin, hulle het ‘n heserige kermtjank geluid uitgeforseer teenoor een of ander dagga-koning. Koning Baielekka-ja Dalindyebo is blykbaar daarvoor bekend dat hy graag teug aan ‘n giggelgrassie, maar dit is nie wat die Jigliga by die ore uit laat rook het nie. Dit was sy slegsê uitsprake teen Zuma wat die vullisstrooiers so woedend het dat hul weer die veearts met maagsere moet gaan besoek.

Die koning het egter homself voorgeneem om tot die dag van sy sy dood te puf aan die pappagaaislaai aangesien hy gesê het hy sal ophou wanneer Zuma ophou met korrupsie!

Lekker stook aan die spookrook,Oupa!

Tot volgende slag
Die Sweep