Beskuldigde sê landdros is rassisties.


Een van die nege mans wat na bewering menslike ontlasting in die Kaapstadse Internasionale Lughawe gegooi het, het die landdros, Jannie Kotze van rassisme beskuldig.

Nege mans het i.v.m. die voorval in die Bellville Landdroshof verskyn waarvan twee borgtog ontvang het.

Landdros Kotze het in sy uitspraak gesê dat borgtog aan die sewe geweier word aangesien dit nie uitgesluit kan word dat hulle weer sulke dade sal pleeg nie.

Een van die mans wat borgtog geweier is, Andile Lili, het die landdros gevloek en hom van rassisme beskuldig. Ondersteuners het lawaai terwyl die beskuldigdes uit die hof gelei is. Polisielede het slegs gekyk en niks gedoen nie.

Lili het die landdros beskuldig dat hy hulle kasty omdat hulle swart is. “Ons is bereid om 30 jaar in die tronk deur te bring …. ons kan nie ons mense toelaat om in sulke toestande te leef nie.”

Die beskuldigdes is onder die Burgerlike Lugvaartwet aangekla, waar ‘n skuldigbevinding tot 30 jaar tronkstraf kan lei.

Kotze het hom doof gehou vir die gevloek en beskuldigings en die hofsaal verlaat sonder om te reageer.