Benoude bok maak benoude sprong.


Die spreukwoord lui dat benoude bokke maak benoude spronge, maar ‘n baie benoude bok wat voor jagluiperds gevlug het, het in ‘n bakkie gespring om van die dood te ontsnap.

Die rooibok was saam met sy trop, maar het skielik geswenk en hom daarmee van die res afgesny.

Net toe die jagluiperds gedink het dat die bok nou kos is, het hy deur die venster van ‘n Toyota voertuig gespring.

Die insittendes van die voertuig het die deur oopgemaak en die bok het ‘n paar sekondes later ongedeerd uitgespring.

Die foto is in die Kruger Wildtuin deur Samantha Pittendrigh geneem wat besig was om die jag te verfilm toe die bok in die voertuig voor haar ingespring het.