Bellville misdaad erger as ooit


Inbrake en rooftogte in Ridgworth, Bellville, waar ‘n man die naweek vermoor is, het in die afgelope maande die hoogte ingeskiet. Dit is die mening van mnr. Pieter Blaauw, voorsitter van Bellville se gemeenskapspolisiëringsforum.

Mnr. Blaauw het gesê dat dit georganiseerde misdaad is en dat dit sedert Mei aansienlik toegeneem het.

As die aangrensende woongebied Stellenridge, se inbrake en rooftogte by dié van Ridgeworth sedert Mei bygetel word, staan die getal op 36. Daar was net een moord vanjaar die gebied waarvan Blaauw bewus is.

Die misdade in Ridgeworth kan gewoonlik verdeel word tussen die breekyster-bende wat bedags by huise inbreek en ‘n groep wat snags by vensters inbreek, het Blaauw gesê. Laasgenoemde verwyder die ruit van ‘n venster terwyl die inwoners slaap en steel goedere soos selfone, skootrekenaars en TV-stelle.

Die breekystergroep identifiseer ‘n huis en breek dan die voordeur met ‘n breekyster oop as niemand tuis is nie. Binne minute word elektriese toestelle en ander waardevolle goedere gesteel en hulle vlug voordat die sekuriteitsmaatskappy of polisie opdaag.