Bankrot lugmag se geld vir Zumaville

Twee helikopter-eskaders van die Suid-Afrikaanse lugmag het vanjaar géén geld gekry vir reddingsoperasies nie en word hoofsaaklik aangewend om as BBP se lugtaxi diens gebruik te word.

In Durban het 15 Eskader wel geld gekry, maar dit is om pres. Jacob Zuma na Zumaville (Nkandla) toe te neem en terug te bring.

Die implikasies hiervan is verrykend aangesien die moontlikheid nie uitgesluit is dat
indien ’n skeepsramp aan die kus sou plaasvind, die Lugmag géén begrote geld het om sy helikopters in ’n reddingsaksie te gebruik nie.

Die Vryburger het verneem dat 15 Eskader ’n geringe bedrag toegestaan is om opleiding te gee, maar vir BBP vlugte is sowat 300 vliegure beskikbaar gestel.


Die vlugte na Zumaville is vir Jacob Zuma as hy na sy woonplek gaan oor naweke.
Hy vlieg blykbaar met sy BBP-straler tot op die lughawe buite Durban. Daar klim hy oor in een Oryx-helikopters Nkandla toe, en ’n tweede helikopter word saamgestuur met lyfwagte en ander personeel daarin.

Aan die begin van die week word Zuma en sy geselskap weer opgelaai terug Durban toe en dié vlugte met die helikopters kos elke naweek R36,000.

In Kaapstad is die situasie nie veel anders nie want 22 Eskader het bitter min opleidings-vliegure terwyl die res van die Eskader se begroting vir BBP-vlugte aangewend word.

Vlieëniers van die Lugmag het glo gesê hulle is in ’n gemors vasgevang wat beteken dat hulle vaardighede in soek asook reddings operasies gaan verswak en mettertyd geheel en al van hulle ontneem gaan word.

Dit laat die land in ’n uiterste benarde posisie in tye van nood waar reddingswerk gedoen moet word.

Die hele vloot van BK-117-helikopters het van verlede jaar af geen diens kontrakte meer nie, wat beteken dat geen onderdele of groter versienings gedoen kan word op die helikopters nie.

Kenners is dit eens dat die Lugmag moet van sy vliegtuie moet verkoop om te oorleef.

Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, het gesê die lugmag is verantwoordelik vir alle lugvervoer reëlings vir Zuma en hy het geen sê daarin nie.