AVS gaan Hof toe.


Die organiseerders van die Afrikaner Volkseie Sport (AVS) se Bokkieweek wil hof toe gaan om te keer dat die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging (Saha) spelers afdreig en intimideer wat ook aan hulle byeenkomste deelneem.

Hierdie stap kom nadat ‘n jong hokkiespeler uit die Saha-geaffilieerder hokkievereeniging, Northern Blues, geskors is nadat sy verlede week aan die Bokkieweek op Naboomspruit deelgeneem het.

Landi Boshoff (18) ‘n matriekleerling aan die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord, is ‘n lid van die Northern Blues se o.18B-span. Sy hoop egter om later vanjaar saam met die AVS se o.19A-span in China te gaan deelneem.

Die probleem met Landi se deelname het van Northern Blues se kant gekom wat ‘n ultimatum aan Landi gestel het dat sy aan die Bokkieweek moet onttrek of anders uit Northern Blues geskop word. Volgens Landi het haar afrigter haar ook gewaarsku om nie deel te neem nie, aangesien haar optrede kan maak dat die hele span geskors word.

Ds. Peter Stans, die uitvoerende hoof van die AVS sê dat vir die afgelope 10 jaar is daar elke jaar sulke probleme. Gewoonlik word die kinders sodanig geïntimideer dat hulle nie deelneem nie. Linda en haar ouers het hulle egter nie aan die dreigemente gesteur nie.

Northern Blues het voortgegaan en Landi geskors, waarop ds Stans op ‘n hofbevel teen Northern Blues besluit het. Die debakel is onderling deur die advokate uitgesorteer nadat die president van Saha, mnr. Mike du Plesis vir mnr. John Wright opdrag gegee het om die saak op te los en hy in ‘n skrywe bevestig het dat Landi weer plek in die span het.

Ds. Stans sê hulle probeer al vir jare die Christelike pad volg en goeie betrekkinge met almal hou, maar hulle gaan nou voort met die hofbevel. “Ons het nie ‘n rusie met die unies nie. Onder die Grondwet is ons almal aan dieselfde reëls onderhewig, maar jong Afrikaanse mense mag nie langer so geïntimideer word nie,” het hy gesê.

Volgens hom kan die unies jong kinders maklik boelie, maar as jy teen hulle opstaan, gee hulle vinnig oor. Hy sê die AVS werk op ‘n volkerebasis en is ook nie rassisties nie. Buitendien bied die AVS geleentheid aan Afrikaanse skoliere wat weens raskwotas nie geleenthede kry nie.

Hy het afgesluit met die woorde wat aan die eerste Vryburger toegedig word: “Ik ben een Afrikander.”