ANC dreig oortreders


ANC-kaders wat die Wet oortree, sal vasgevat word, het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gesê.

Hy het die opmerking gemaak in ‘n vraag-en-antwoordsessie op die sosiale netwerk Twitter terwyl hy uitgevra is oor omstrede leiersfigure soos John Block en Yolanda Botha in die Noord-Kaap.

Gelukkig vir hom het die name van Shabir Shaik en Jackie Selebi en soveel duisende ander nie opgeduik nie; seker maar ook omdat hulle dade en name reeds in die vergetelheid vesink het, soos daar daagliks weer nuwe dade en name opduik.

Maar hy het dapper gesê dat wie ook al in ‘n Regeringsposisie is en hulle aan die verkeerde kant van die gereg bevind, sal nie daarmee wegkom nie, of iets in dier voege.

Hy moes die ANC se beleggingsarm, Chancellor House verdedig en het gesê dat die ANC moet van êrens geld kry. Partye wat nie ‘n Chancellor House het nie, ontvang grootskaalse finansiering wat die ANC nie kan kry nie, het hy met ‘n skynbaar ernstige gesig gesê. “Ons moet toegelaat word om ons sake te kan uitvoer,” was sy woorde.

Die meeste van die opmerkings was egter t.o.v. die ANC se stilswye oor die konstruksiewerk by Zuma se Nkandla-woning.

Op die vraag of dit vir hom aanvaarbaar is dat Zuma ‘n paleis van 270 miljoen kry, terwyl baie Suid-Afrikaners in plakkershutte woon, het hy gesê hy wag nog vir die amptelike verslag. Dít terwyl die verslag reeds wettig in die pers bespreek is.

Op vrae wat ‘n bietjie moeilik was, het Mantashe in tipiese ANC-styl opgetree; dit net stil-stil laat verbygaan.