Aasvoëls vergiftig op plaas


’n Boer in die Underberg omgewing, wat hoofsaaklik met skape boer aan die suidelike Drakensberg gebied, kan dalk deur die Nasionale Biodiversiteitswet vervolg word toe uitgevind is dat 48 bedreigde aasvoëls op sy plaas dood is weens vergiftiging.

Mnr. Ben Hoffman, verbonde aan die organisasie “Rapture Rescue” het gesê die boer het blykbaar karbofuraan in die karkasse van skape gesit om jakkalse te vergiftig wat sy diere doodgebyt het.

André Botha van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) se program vir roofvoël bewaring het glo gesê die boer gaan vervolg word.

Hy sê die meeste was krans-aasvoëls en een was ’n witrug-aasvoël wat vergiftig was.

Volgens Hoffman is dit die ergste massa-vergiftiging wat hy nog teëgekom het.
Dr. Gerhard Verdoorn, gifkenner en bekende deskundige sê dit is ’n verskriklike terugslag.

Karbofuraan word in die landbou gebruik om aalwurm in mielies te bestry.

Daar is net meer as 8, 000 krans-aasvoëls oor en in die afgelope jaar is 400 aasvoëls op onnatuurlike wyse dood.